Abram is gebore en getoë in Namibië waar hy op 'n plaas in die Kalaharie grootgeword het. Om te skryf, was sy groot liefde van skooltyd af. Opstelle, gedigte en stories het feitlik as tweede natuur by hom ontstaan. Hy is dikwels as kind deur die grootmense geroskam oor sy “lewendige verbeelding” en detailbeskrywing van alledaagse dinge.
Hy was in Koës, Gochas en Mariental op skool. Na skool het hy aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en hom as onderwyser bekwaam en het na sy verpligte militêre diens vir twee jare as hoërskoolonderwyser diens gedoen. Hy het die klaskamer vir volwasse onderrig verruil en was verbonde aan die destydes Akademie vir Tersiêre Onderwys as vakkundige beampte en personeelbestuurder.
Hy het die sakewêreld betree na die verwerwing van 'n Magister In Besigheidsbestuur en Administrasie aan die Universiteit van Stellenbosch en hy het sy korporatiewe loopbaan by Standard Bank as senior bestuurder na 16 jaar diens, afgesluit.
Abram is getroud met Annette. Hulle het drie volwasse seuns en woon in Gobabis, Namibië. Hy het ‘n passie vir motors en motorsport, jag graag en kamp so dikwels as moontlik in die veld.