Prof Stephan Joubert se grootste vreugde is om die Here lief te hê en om mense in en om die kerk op allerlei buite-die-boks-maniere te dien. Die aardse liefdes van sy lewe is sy fenomenale vrou, Marietjie, en sy twee wonderlike dogters, Tarien en Elani. Hy is ’n voltydse student van die Woord, asook van mense, goeie boeke en sommer van die lewe self.
Grondvat-teologie en geestelike leierskap is van sy groot passies. As tentma¬kerleraar is hy deeltyds verbind aan Pierre van Ryneveld-gemeente. Dan is hy ook betrokke by Mosaïek-gemeente in Fairlands, asook by Moreletapark-ge¬meente met toerusting en prediking. Voorts is hy redakteur van e-kerk, ’n virtuele kerk wat weekliks derduisende mense oor die aarde per e-pos en by wyse van ’n groot webblad-bediening en konkrete noodprojekte bereik. Daarby tree hy op as spreker, prediker en leierskapkonsultant by verskeie kerke en ondernemings in Suid-Afrika en oorsee. Tussendeur is hy buitengewone profes¬sor in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n navorsingsgenoot in Teologie aan die Universiteit van Nijmegen in Nederland.
As skrywer is dit sy vreugde om van Maandae tot Vrydae in die dagblad Beeld ’n klein afdeling genaamd “Goeie Nuus” te behartig, asook ’n weeklikse rubriek in ’n streekskoerant in die Kaap. As daar iewers tyd oor is, skryf hy ook graag boeke. Die Boodskap, ’n eietydse vertaling van die Bybel saam met Jan van der Watt, is seker die grootste mylpaal in hierdie verband. ’n Klompie Afrikaanse boeke, een akademiese boek in Duitsland en sowat 50 artikels in akademiese tydskrifte het ook reeds die lig gesien. Maar die grootste lekkerte van sy lewe is steeds om die Here te volg en om te sien hoe Hy mense se lewens om elke hoek en draai met sy goedheid aanraak.
Stephan se boek Jesus – ’n radikale sprong is in 2010 bekroon met die Andrew Murray-prys vir die beste Afrikaanse Christelike boek.